
06-02-2009
WIE IS JESUS REGTIG VIR JOU?
Dagstukkie deur Ds Hannes Haggard NG Kerk Hennenman-Oos
Mat 2:2 en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.
Mat 2:3 En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom;
Mat 2:8 en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.
Sou ‘n Moslem vandag vir jou vra: “So what is this Merry Christmas and this Jesus-thing you are talking about. Who is Jesus?” Die beste antwoord sal dalk volgens Jesus se riglyn wees. Onthou: Woorde wek, maar voorbeelde strek.
Die saligsprekinge van Jesus is Matteus 5:1-16 is ‘n goeie antwoord. Luister:
Mat 5:3 Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.
Mat 5:4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word.
Mat 5:5 Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.
Mat 5:6 Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.
En nou, jy wat jou self ‘n Christen noem, wie is Jesus vir jou? In Miga 5:1 staan die volgende:
Miga 5:2 En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.
Hy is dus ‘n Heerser, ‘n Leier wat hier op aarde ‘n skaapwagter, ‘n herder gaan wees.
Ons moet onthou dat die sterrekundiges heidenne was. Dalk het hulle voorheen kontak gehad met die ou Jode in ballingskap in Babilon.
Daar is ‘n ou Joodse legende wat as volg lui: Twee Joodse Rabbis het oor die onderwerp geargumenteer: “Het Jesus al in die wêreld gekom?” Een van hulle kyk toe deur die venster na buite en vra die vraag: “Kyk hoe lyk die wêreld. Is Jesus dan gebore?”
Nou moet ons ook vanoggend deur die venster kyk en vir onsself afvra; “Is die Jesus regtig gebore?”
Kyk ons na die dagblaaie/koerante, luister ons na die nuusbulletins, kyk na ons huwelike, kyk ons na ons eie gemeente, kan ons tereg ook die vraag vra; “Is Hy gebore? Het die Messias gekom?
Kom ons skep ‘n beeld: Wanneer ons so na die kerstyd, die partytjies, die baie eet en dalk drink , wanneer ons kyk na die hope vuil skottelgoed, die oorskietkos in die yskas, het daar regtig veel verander hierdie Kerstyd? Wat het hierdie kersfees is ons dorp, ons land, die wêreld verander?
Ja, wie is Jesus regtig? Op kersdag het ons gelees uit Johannes 1 die volgende: Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Hy het dus onder ons kom tent opslaan. Wat het verander? Die digter George Weideman dig tereg in sy bundel: Son op die solder, dat ons gerieflikheidshalwe vir Jesus op die solder gaan wegsteek het.
Die magsbehepte Herodus was bang vir hierdie Jesus en het seuntjies twee jaar en jonger laat doodmaak. God sorg vir my. Waarvan lewe ek, waarvoor lewe ek? Lewe ons soos Herodus, wat nie sy mag wou prysgee nie, net vir myself? Die groot vraag is: Waarvoor gaan ek in die nuwe jaar lewe, myself?
Dan was daar die priesters. Siende blind en horende doof. Ons kry mos die “insiders” en die “outsiders. Die “insiders” kyk Jesus mis. Sy eie broers, die skrifgeleerdes het min verstaan , het nie geweet nie. Die buitestanders soos die melaatses, die tollenaars het Jesus herken en in Hom geglo.
Ons wat as kerkmense groot geword het; wie is Jesus vir ons? Nou wat sien die Moslem?
‘n Jong seun by die petrolpomp maak die opmerking teenoor dominee: “Ons kom nie altyd lekker met mekaar oor die weg nie.” Jesus leef soos vir die sterrekykers. Hulle het gekniel en Hom aanbid.
Wattter kerk in ons land groei vandag die vinnigste? Is dit nie die klein groepies onder die bome nie? Laat Jesus vandag toe om in ons lewe te kom. Maak in die nuwe jaar iets van Christus bekend. Laat daar in my hart ‘n aangename lied wees, aangename gedagtes. Laat ons denke aan die Here oor, ons planne, bring dit vir die Here. Ons besigheid, ons plase, die nuwe skooljaar, ons dorp, ons land, kom ons sit dit in Jesus se hande. Sal U my lei?
No comments:
Post a Comment